2 boeke wat my lewe verander het

Ek onthou byna elke boek wat ek ooit gelees het.

Daar is boeke wat ek nooit weer sal optel nie, boeke waaruit ek nie meer dieselfde plesier kan put nie, want my waardes het verander. Daar is boeke van my gunstelingskrywers wat my herinner waarom hul my gunsteling is.

Foto: Pixabay.com

Ek onthou die eerste romanse wat ek ooit gelees het – van die plot tot die klere wat die karakters gedra het toe hulle die “ek is lief vir jou” geuiter het.

Maar daar is twee boeke wat altyd ’n besonderse plek in my hart sal volstaan: Diekie vannie BoKaap deur Zulfah Otto-Sallies en Driehoek deur Sophia Kapp.

Ek het Diekie vannie BoKaap in standerd ses (graad agt) in Afrikaans by meneer Moses gelees. Ek onthou die mostertgeel dun boekie en die titel wat so maklik op my tong geval het.

Ek onthou die dag toe ons dit klaar gelees het, die stilte in die klas omdat ons (spoiler alert!) ’n goeie vriend in Diekie verloor het. Ek onthou hoe gretig ons almal was om dit op te voer, en hoe beïndruk ons was met Revine se acting. Ek onthou dat ek en my vriendin, Nadia, “ouens op die hoek” was en terug na ons bank gestap het terwyl ons “Jaloersbokkie” sing.

Ek is baie lief vir Diekie en Ice vir die volgende redes:

  • Dit was die eerste keer waar ek my alledaagse lewe in print gesien het.
  • Die karakters is mense wat ek ken en liefhet.
  • Die taal was bekend op my oor en tong, ek het nooit gesukkel om dit te lees nie. Ek kon ’n woord lees en die bedoeling, en hart, daaragter verstaan.
  • Dit was nie vir my ’n “mooi storie oor bruin mense” nie, dit was ’n mooi storie.

Ek het Tessa Badenhorst in Die verhuising ontmoet. Sy was bekkig en ’n no bullshit-vrou, maar ek het nie gedink sy sal my gunsteling- Sophia Kapp-karakter word nie.

Tessa is die vrou waarteen elke ma jou waarsku: sy is seksueel-vry, het ’n indrukwekkende vloekskat, is brutaal eerlik, skeer almal oor dieselfde kam en word ’n alkoholis gedurende die verloop van die storie. Op die bad girl-skaal weeg sy ’n solid tien, maar Tessa is ook die vrou wat ek graag wil wees:

  • Iemand wat nie haar foute wegsteek nie.
  • Wat eerlik is met almal, maar veral met haarself.
  • Wat empatie het met almal se omstandighede.
  • Wat verantwoordelikheid vat vir haar eie lewe, foute en besluite.
  • Wat aan haarself werk, want sy weet sy is dit waardig.
  • Wat weet sy is haar eerste liefde, en dit maak haar nie selfsugtig nie.

In ’n wêreld waar die Instagram reel so maklik as die waarheid aangesien kan word, is Tessa steeds ’n heldin waarna ek streef. Sy is ’n hot mess – op die beste manier. Deur haar het ek geleer daar is nie iets is soos perfeksie nie.  

Tessa het ’n getroue vriendin geword – ’n ride of die. Ek lees Driehoek een keer per jaar. Deur haar het ek geleer dat foute soms die beste deel van die lewe is, en dat bad girls blêddie goeie vroue kan wees.

Hierdie twee karakters, hierdie twee boeke, het my laat tuis voel wanneer dit gevoel het asof ek nooit my eie plek in die wêreld sal vind nie. Deur hulle het ek geleer dat elke mens sy eie sak sout dra. Ek is baie dankbaar vir hierdie boeke en skrywers – vir ’n huis toe ek andersins onwelkom gevoel het.